Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” (1 Konings 19:9).
Wanneer Elia in 1 Konings 19 op moedverloor se vlakte beland, versterk en bemoedig God hom op meer as een manier.
Allereers word hy gevoed deur die hand van ʼn engel. En dan, toe Elia hom ná ʼn lang reis van veertig dae uiteindelik in ʼn grot op die berg Horab bevind, kom God self na hom toe met ʼn belangrike vraag.
Dié vraag lui: “Wat maak jy hier, Elia?” Ja, waarheen presies is jy op pad, terwyl jou volk wag op nuwe lig en leiding, op ʼn woord van hoop en bevryding?
Hierdie skynbaar onskuldige vraag het, soos dit blyk uit Elia se flou reaksie (1 Konings 19:10), aan die fondamente van sy bestaan geruk. Inderdaad was dit ʼn vraag na sy roeping in ʼn tyd van krisis. Trouens, so dringend was dié vraag dat God dit nie net herhaal het nie (19:13); ná ʼn persoonlike verskyning aan Elia (19:11-12) jaag God hom ook as’t ware op en stuur hom terug op die pad waarop hy gekom het. Om in Damaskus die weg vir ʼn nuwe bedeling te help baan (19:15-18).
Hopelik voel jy die belang van Elia se verhaal vir ons tyd aan. Hoe dit ons enersyds herinner aan die versoeking om, soos Elia, weg te vlug van moeilike omstandighede, dikwels met allerlei flou en negatiewe verskonings. Andersyds daag die verhaal ons uit om stil te word en opnuut ons roeping en bydrae in ʼn tyd van onsekerheid te bedink.
Selfs al voel jy baie dae gefrustreerd en magteloos – God wil jou gebruik. Daarop moet jy bly vertrou. Dit bly jou roeping.
O Here, vergewe die vele maniere waarop ons vandag, dikwels uit vrees en ongeduld, ons roeping ontduik. Wys ons opnuut die pad aan en maak ons getrou. Amen.
Carel Anthonissen
(Boodskap vir Vandag van Bybel-Media)