“Sê nou een van julle het ’n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’ ’n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Lukas 17:7-10).
Ons weet nie of ons môre nog hier is nie. Die Here het wel vandag vir ons gegee om sy lig te laat skyn. Slegs vandag is tot ons beskikking, maar die son trek al weer water. Die tyd raak min om vandag ander familielede van God op die hande te dra. Iemand kort nog ’n bietjie liefde, ’n sny brood of ’n gebed voor slapenstyd. Ons kort die Here se hartklop in ons binneste om met ’n “heilige dringendheid” vandag anders te laat lyk as gister.
Solank ons oop is vir die Here se werk, vat hierdie dringendheid op onverwagte maniere in ons lewe pos, soos met Jozef de Veuster gebeur het.
Jozef se broer was ’n priester, maar hy het siek geword voordat hy in Hawaii moes gaan werk. Toe meld Josef in sy plek aan vir diens en gaan in 1864 Hawaii toe. Daar het hy vir nege jaar as priester Damien gedien. In 1873 het hy ingewillig om ’n melaatse gemeenskap van 8 000 mense op die Molokai-eiland te gaan bedien. Hy is vooraf gewaarsku dat hy nooit weer na die beskawing sou kon terugkeer nie. In hierdie tyd het Damien hospitale, klinieke, kinderhuise en skole gebou, al het hy self in 1884 melaatsheid opgedoen.
Op 15 April 1889 sterf Damien in die Here se diens. Sy lewe van onbaatsugtige diens, harde werk en opoffering het sy dood beteken. Maar Damien se vriende het by hom gehoor dat ’n splinternuwe lewe by God op hom wag. Sy visie van God se nuwe wêreld het gemaak dat hy in een van die stukkendste gebiede van die wêreld, wat as ’n “menslike ashoop” beskou is, die lig van die evangelie helder laat skyn het.
God se aardse familie is kosbare mense. Ons is Jesus se aardse liggaam. Ons is duur gekoop. Ons word gereedgemaak vir die ewige hemelse bruilofsfees. Om deur Jesus se oë na ons familie te kyk, is om hulle foute mis te kyk. Dan wil jy op blinkgepoleerde voorstoepe saam met hulle koffie drink. Dan bewaarheid jy Jesus se woorde in Lukas 17:7-10 dat die belangrikste mense by enige ete die gaste is. Kelners is daar om hulle te bedien.
Ek en jy is die kelners by elke tafel waar Jesus ons wil gebruik. Jesus vra dat ons sy geliefdes in God se aardse familie sal bedien. Net dit.
Here God, dankie dat U u lewe gegee het om my te red. My lewe is nou U s’n. Help my om ’n kelner te wees by enige tafel waarheen U my stuur om u mense te dien. Amen.
(Prof Stephan Joubert – Boodskap vir Vandag)