“Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon” (Matteus 6:6).
Wie op soek is na ware selfkennis, asook om die waarde van gebed in dié proses te ontdek, moet in die reine kom met stilte.
Blaise Pascal, die briljante wiskundige wat so dramaties tot bekering gekom het, het geskryf: “Die meeste van die mens se probleme ontspring uit sy onvermoë om tot stilte te kom.”
Inderdaad, want stilte kan bedreigend wees. Dit kan in sekere omstandighede selfs ʼn destruktiewe mag word, een wat ʼn mens se gees kan breek. Gevangenes wat lank in eensame aanhouding was, ken dit.
Maar stilte kan ook helend wees. Baie mense wat deesdae die stil ooptes van die Karoo gaan opsoek om aan die gedrang van die stad te ontsnap, kan hiervan getuig.
In die vierde eeu na Christus het ʼn groep gelowiges juis om dié rede in die woestyn gaan bly. Mettertyd sou stilte vir hulle die ruimte bied vir ʼn inniger ontmoeting met God en ʼn vryer, gesonder gees. In die woorde van een van die bekende woestynvaders, Arsenius: “Flee, keep silent, be still, for these are the roots of sinlessness.”
Vandag is die uitdaging om, in pas met Christus se opdrag in Matteus 6:6, tye en plekke van stilte in jou bedrywige program te skep. Daarsonder sterf die bewussyn van God.
En raak ons innerlik armer.
Here, ek raak nou stil. Ek buig in stilte voor U neer. Besweer opnuut my angs. Raak my weer aan met u liefde. Maak my vry. Heel my binneste. Amen.
Carel Anthonissen