“Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20).
“Ek ervaar God nie as ek bid nie,” sê iemand onlangs vir my. Terwyl ’n stukkie navorsing van George Barna in my kop opduik – wat sê dat sowat 50% mense God glad nie in eredienste beleef nie – dink ek dat ek met presies dieselfde kwessie worstel. Daarom dat ek soveel dinge in die verlede beproef het wat hierdie “dieper” lewe sou waarborg, soos gebedsontbyte, kampe, kursusse, kongresse, retraites … Ek het boeke gelees, video’s gekyk en CD’s geluister. Saam met Marta van Lukas 10 moes ek ontdek dat my soektogte van die verkeerde veronderstelling uitgaan. Saam met Maria moes ek ontdek die Here is al lankal hier.
Die Here is nie eers hier wanneer ek Hom persoonlik beleef nie. Hy ís hier. Punt. Sy belofte is dat Hy by sy mense is, al die dae tot aan die einde. Niks kan my van die Here skei nie (Rom 8:31-39). My kop moet dit elke dag weer hoor, want ek ly aan vergeetagtigheid en geestelike geheueverlies. My kop moet hierdie waarheid oor en oor hoor én glo. My wil moet hierdie kennis omhels voordat my hart daarmee saamklop.
’n Diep wete dat God naby is, is die geheim van die Christelike lewe. Die wete dat ek in Hom is en aan Hom behoort, oorroep alle gevoelens wat ek het, of nie het nie. Solank ek my soeke na iets dieper net aan my gevoelens of belewenisse vasmaak, gaan ek ’n onstabiele staan-en-val-geloof hê. Solank ek dink my gevoelens moet elke keer hoog sweef wanneer ek bid of lofliedere sing, gaan ek ’n slagoffer wees. Gevoelens is nie ’n liniaal waarmee ek die Here se afstand van my af kan meet nie. Ek hoef ook nie hierdie afstand te meet nie. Want, daar is geen afstand nie!
Christus is hier. Saam met Maria moet ek elke dag hardloop vir die ereplek aan Jesus se voete met die vaste wete: Hy is hier. Hy het kom kuier. Ek kan maar net rus by Hom. Hoe meer ek myself in hierdie gewoonte inoefen, hoe meer begin ek Christus “sien” in die geloof. Nou en dan breek diep ervarings van sy nabyheid intens deur. Maar die regte soort gevoelens volg net as ek diep bewus is van die waarheid dat Jesus Immanuel is. Hy is God-met-ons. Ook wanneer ek niks voel nie, is ek steeds geborge in die Here, want aan hierdie kant van die graf leef ek in geloof. Eers anderkant die graf verander dit vir altyd.
Here, herinner my aan u nabyheid en maak my gereeld van u teenwoordigheid bewus, want ek ly aan geestelike geheueverlies. Dankie dat ek kan weet U is altyd by my, of ek dit voel of nie, want dit is wie U is – Immanuel. God by my. Amen.
(Prof Stephan Joubert – Boodskap vir Vandag)