Lees Job 1:1; 2:1-10.
“Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God … !” (2:9).
Job en sy storie het ons gereeld in ’n hoek, en ons spartel om daaruit te kom. Kyk maar: Hoe gemaklik is jy, gelowige mens wat hier lees, met ’n vergadering waar die hemelwesens voor die Here kom staan, en dan kom sluit die Satan hom ook daar aan. Verbeel jou – hý!
As dit maar ál was … Daar volg toe boonop ’n debat tussen die Here en Satan oor Job se vroomheid en opregtheid, al dan nie. Met die Here wat ten einde laaste toegee: Maak met hom wat jy wil. Spaar net sy lewe.
Goeie genade! Vloek hierdie storie nie teen omtrent alles wat ons van die Here weet nie? Hoe kom ’n gelowige leser uit hierdie ene? Hoe verweer jy jou teen die siniese kommentaar van andersdenkendes wat smalend vra: Is dit soos julle God met julle maak?
Wat van medegelowiges wie se oë groot rek en wat vir jou vra: En nou? Is God dan so?
Miskien moet ons liefs verder lees, die storie klaar lees. Nie saam met Job se vrou begin skel nie. Net nie in dieselfde strik trap as soveel ander wat hierdie tiental verse lees en dink nóú weet hulle alles van God nie.
Ons weet immers genoeg om te weet Hy pas nie in ’n halwe Bybelhoofstuk in ’n interessante literêre genre in nie. Hy is nie ’n storieboekskurk nie. Hy is God. Sy kinders, ook Job-met-die-swere, ken Hom as die Een aan wie se liefde daar geen einde is nie.
Kom ons hou eers ons mond. Kom ons luister die storie klaar.
Ons vinnige woorde en kinderagtige gedagtes oor U maak ons uiteindelik skaam, Here. Leer ons om beter te luister.
Barend Vos
(Bybel Boodskapper)