Pinkster 2020 Tema 5: Bid dat die Heilige Gees ons oë open…

 

Pinksterreeks: God se verlossingspad met ons
Tema 5: Bid dat die Heilige Gees ons oë open…
sodat ons kan glo
Skrif: Joh 20:26-29; Hebr 11:1,2; Rom 3:21-31

Inleiding
Baie welkom by die vyfde boodskap van ons Pinksterreeks.
Ons oordink in hierdie week die Woord van die Here as Hy met ons praat oor die verlossingspad wat Hy met ons loop. Vandag se tema is: Ons moet bid dat die Heilige Gees ons oë open… sodat ons kan glo.

Gebed
Drie-enige God, ons buig in aanbidding voor U
U is die God van alle gode
die Heer van alle here
die Koning van alle konings
Ons buig voor U omdat
U die God van liefde en genade is
en omdat U in u Seun Jesus Christus na ons neergebuig het
om ons uit ons sonde en ellende op te tel
Ons dank U
vir die talle seëninge wat U in Jesus Christus aan ons skenk
maar ook vir die seëninge op tydelike gebied
Ons dank U vandag met ons hele hart
vir die sneeu en die reën
Dankie Here omdat U getrou is
en uitkoms gee
Ja U sorg dag na dag vir ons, u kinders.
Skenk dan ook in hierdie dae vir ons
geestelike reën
En laat die Woord wat gesaai word vrug dra
tot eer van u Naam.
Ons bid dit in Jesus Naam. Amen

Skriflesing
Die Woord kom vandag na ons uit Joh 20:26-29; Hebr 11:1,2 en Rom 3:21-31. Gaan lees dit gerus deur.
Kom ons lees saam:
Joh 20:26-29 Beklemtoon v29
Hebr 11:1,2
Rom 3:21-26 (julle kan die gedeelte verder lees tot by v31)

Preek
Die Heilige Gees wil ons oë oopmaak sodat ons kan sien.
Hy wil ons oë oopmaak om onsself te kan sien – as swakke, sondige mense.
Hy wil ons oë oopmaak om Jesus Christus, die Seun van God te sien.
Hy wil ons oë oopmaak om God se oneindige groot liefde, sy onbeskryflike groot genade te kan sien – die liefde en genade wat daar in Christus Jesus is. Die Heilige Gees wil ons harte vul om spontaan en met oorgawe saam met Ef 1 lofliedere te sing, om dit uit te jubel: Alles, alles is genade!

Maar nou is die groot en belangrike vraag: Hoe moet ons reageer op dít wat ons sien? Hoe moet ons reageer op dít wat God uit sy liefde en sy genade vir ons kom aanbied?
En die antwoord is: Ons moet GLO

Van die eerste bladsy van die Bybel tot die laaste bladsy, word ons opgeroep om te glo.
Die woordjie geloof is natuurlik nog een van die daardie woorde wat ons baie gebruik, terwyl die diepe, Bybelse betekenis daarvan baie maklik by ons kan verbygaan. Baie mense sê vinnig vir jou “ek glo” of “ek het my geloof” – maar die vraag is, wat bedoel hulle met “ek glo”?

Vriende, ons moet met ’n ontvanklike en ‘n biddende hart luister na die stem van die Heilige Gees, wanneer ons vanuit die Woord oor geloof nadink. Want dis só belangrik dat ons sal verstaan wat die Woord vir ons oor geloof leer, en dat ons nie sal vasval by wat ons idee van geloof is nie.

1. Die eerste ding wat die Woord vir ons leer, is dat geloof baie belangrik is, want – om te GLO is noodsaaklik vir ons verlossing

En die Woord sê dit op so baie plekke. As ons na Paulus se brief aan die Romeine kyk, dan sien ons by herhaling dat geloof noodsaaklik is vir ons redding. As ons bv. na Rom 3 kyk wat ons saam gelees het, dan sien ons dit sommer ’n hele paar keer.
Dit is die vryspraak wat verkry word deur te glo. (v22)
God gee dit aan almal wat glo. (v22)
God bewerk versoening vir dié wat glo. (v25)
Hy spreek elkeen vry wat glo. (v26)
Ons betoog is tog dat ’n mens vrygespreek word omdat hy glo. (v28)
God spreek ons vry omdat ons glo. (v30)

Dis in die Skrif by herhaling opgeteken om dit vir ons duidelik te maak dat geloof belangrik is. Martin Luther het na diep worsteling en biddende bepeinsing oor die boek Romeine, tot die besef gekom dat mens net deur geloof verlos kan word. Nou dit was in ‘n tyd toe die kerk gedwaal het en ook ander dinge verkondig het wat kwansuis nodig sou wees vir ‘n mens se verlossing. Luther besef met die lees van Romeine dat sonder geloof is daar nie sprake van redding nie. In Romeine staan daar dat al doen ek my bes om volgens die wet te lewe, kan ek nie gered word nie. Al is ek ’n voorbeeldige mens, al is ek ‘n aktiewe lidmaat van die kerk, al dien ek op honderd plekke, al gee ek die grootste dankoffer, al leef ek ’n mooi ‘skoon’ lewe, al is ek hoe godsdienstig – as ek nie glo nie, dan is ek verlore. As ek nie in geloof reageer op God se genade en liefde nie, as ek dit nie in geloof ontvang nie, dan baat alles my niks!

2. Maar as ons dít sê, dan is daar tweede belangrike ding wat ons onmiddellik daarmee saam moet sê, en dít is – dit is NIE deur jou geloof (hoe groot of hoe klein ook al) dat jy gered word nie

Wat ons moet verstaan is dat geloof is nie iets wat jy kan doen, dis nie iets wat jy vir God kan aanbied as ’n stuk verdienste om gered te word nie. Geloof mag nie ’n goeie werk wees waardeur ek my verlossing probeer verdien nie. Geloof moet nooit gesien word as ’n prestasie van my kant nie. Weet julle, dis ‘n wesenlike gevaar, dat ‘n vroom mens op sy geloof kan vertrou. Dit kan maklik gebeur dat ‘n mens begin dink “o, my geloof is so sterk…”.

Hoor julle – Geloof is belangrik. Dis onmisbaar. Maar dis nie ons geloof wat ons red nie. Ons word alleen gered deur Jesus Christus

Daar’s ’n baie groot verskil tussen geloof as grond vir my redding, en geloof as middel vir my redding.
Ek het aan ’n beeld probeer dink – ‘n baie eenvoudige beeld. As ek medisyne drink, is dit tog nie die lepel wat my gesond maak nie, dis die medisyne. Die lepel is maar net die middel waardeur ek die medisyne inneem.
Daarom lê die Woord soveel klem daarop, ook in hierdie Skrifgedeelte van vandag, dat die medisyne wat ons moet inneem om van ons sondes genees te word, om verlos te word, om nuwe mense te word, is Jesus Christus. Die geloof is die uitsteek van my hand en die lepel wat die medisyne na my mond bring. Hier staan by herhaling nie net dat ons moet glo nie, maar dat ons in Jesus Christus moet glo.
Dit is die vryspraak wat ons kry deur in Jesus Christus te glo. (v21,22)
God het Jesus Christus gegee om verlossing en versoening te bewerk, vir dié wat glo. (v24)

(1) Geloof is belangrik. Dis onmisbaar. (2) Maar Jesus Christus moet altyd die inhoud van my geloof wees – net Hy.

3. Maar kom ons leer ook verder uit die Woord: Wat is geloof?

In Hebr 11:1 vind ons ‘n kort definisie van geloof: Dis om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Dis juis ook wat Jesus vir Tomas sê: Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.

Een van ons kerk se belydenisskrifte, die Heidelbergse Kategismus, delf ‘n bietjie verder in die Woord en help ons om nog beter te verstaan wat geloof is. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit só: Daar staan dat geloof op twee bene staan. En as jy een van die bene afkap, dan val die geloof plat. Die een kan nie sonder die ander op die verlossingspad stap nie.

(a)Die eerste been waarop geloof staan is kennis.
Kennis van God. Kennis van wie God is. Kennis van wat God doen. Kennis van God se beloftes. Kennis van wat God van ons as sy skepsels vra.

Nou waar leer mens God ken? Waar leer jy wie Hy is, wat Hy doen, wat Hy van ons vra? Waar leer jy sy beloftes ken? – In sy Woord! Kennis van God, kennis van wie Hy is en wat Hy doen, bring my nie net tot verlossing nie. Dit help my ook om aan te stap en te groei op die verlossingspad. Om te groei in my verhouding met die Here.

Daar kan nie van groei, van heiligmaking in my lewe sprake wees, as daar nie groei/verdieping in my kennis van God en sy beloftes en sy wil vir my lewe is nie. Dit is waarom baie lidmate se reis op die geloofspad eintlik tot stilstand gekom het, of selfs in trurat beland het – omdat daar nie groei is in kennis van God en die dinge van sy koninkryk nie. Baie lidmate het die begeerte om in die geloof te groei, om vorentoe te gaan op die verlossingspad, maar hulle wil hê dit moet uit die lug val. Hulle soek dit in verkeerde dinge soos ervaringe, of hulle soek dit op ander plekke – en dan beweeg hulle van een plek na ‘n ander, van een kerk na ‘n ander. Geestelike groei en groei in my geloof kom as my kennis van God gevoed word. Dit kom wanneer ek God op die bladsye van sy geskrewe Woord ontmoet – daar waar ek Hom beter en beter leer ken.

Wyle professor Murray Janson het destyds gesê die Bybel is God se liefdesbrief aan ons. Die Bybel is nie daar om vir ons gunsteling onderwerpe stof vir argumente te gee nie. Dis nie ’n wetenskapshandboek of ’n geskiedenisboek nie. Dis God se liefdesbrief aan ons. Sy liefdesbrief waarin Hy sy hart vir ons oopmaak. Sy liefdesbrief waarin ons – ook vanuit die geskiedenis, maar ook vanuit gedigte en liedere en openbarings en profesieë – ontdek wie Hy werklik is. Sy liefdesbrief waardeur ons Hom, waardeur ons sy hart, regtig leer ken. Dink maar aan ‘n liefdesverhouding tussen twee jongmense – hoe het ek en Mariaan mekaar beter leer ken toe ek op Stellenbosch was en sy op Aliwal-Noord skool gehou het? Deur ons liefdesbriewe waarin ons ons harte vir mekaar oopgemaak het. En ons het daai briewe oor en oor gelees om mekaar beter te leer ken, om mekaar se hart te verstaan. Die Bybel is God se liefdesbrief waardeur ek Hom beter leer ken.

(b) Maar nou is dit so dat ’n mens oor baie kennis van die Bybel kan beskik, jy kan selfs teologie studeer, en jy kan reken dat jy baie weet van die Bybel en van die dinge van God, maar dat jy steeds nie glo nie. Jakobus sê vir ons dat die duiwel ook vir God ken, maar hy sidder van angs. Dis waarom geloof ook op sy tweede been moet staan.  Kennis die eerste been. En dan die tweede been – vertroue.

Geloof beteken ook dat ek God vertrou vir wie Hy is. Geloof beteken ook dat ek God se Woord, sy beloftes, en dit wat Hy aan ons voorskryf, dat ek dit vertrou. Geloof beteken dat ek God se beloftes wat in Jesus Christus waar geword het, vertrou. Dat ek vertroue het in die reddende bloed van Jesus Christus – dat ek weet sy bloed wat aan die kruis gevloei het, is vir my, en dis genoeg. Vertroue beteken dat as ek met nagmaal die brood en beker in my hand neem, en dat ek weet dis ‘n waarborg – so seker as wat ek die brood eet en die wyn drink, so seker weet ek – Hy het vir my gesterf. So seker weet ek – my sondes is vergewe. Vertroue beteken dat ek my volkome aan Hom oorgee, dat ek my hele lewe in sy hande kom plaas. Ek doen dit, want ek vertrou Hom.

Dis natuurlik so, dat hoe beter ‘n mens God leer ken (kennis van God), hoe makliker is dit om op Hom te vertrou. As mens Hom beter leer ken uit die Woord, word jou vertroue in Hom aanmekaar versterk. Maar dis ook as mens Hom persoonlik beter leer ken, as jy in ’n verhouding met Hom leef en dag vir dag saam met Hom op die verlossingspad stap, dat jy al hoe meer besef, jy kan Hom maar ten volle vertrou. Jy kan maar aan Hom oorgee – myself, my lewe, my besittings, my alles.

Want dis wat vertroue is, om met alles wat ek is, en met alles wat ek het, aan God oor te gee. Om jou in volle vertroue in sy arms te werp.
Ek onthou dat toe my seun klein was, het ons in ’n huis gebly met baie steil trappe van die woongedeelte af na die garage. Ek het dikwels so ’n paar trappies voor hom afgestap, en dan het hy dit geniet om in my arms te spring. Kan jy glo, hy’t dit gewaag! Hoekom? Omdat hy my, sy pa wat hom liefhet, vertrou het. En dis wat geloof is: Om die vertroue in ons hemelse Vader te hê, omdat jy Hom ken. Om te weet dat jy met jou hele lewe in sy arms kan spring. Met jou sondes, met jou beroep, met jou huwelik, met jou besittings, met jou gesondheid… en om te weet, te glo, te vertrou, dat jy in die veiligste arms in spring.

4. Maar nou, na alles wat gesê is moet ons onthou: Om te kan sê ek glo, om te kan sê ek ken God, om te kan sê ek vertrou op Hom, is nie iets om oor te roem nie. Om regtig te kan sê ek glo, is ook maar net genade. Om te glo is ’n gawe van die Heilige Gees

Hy bewerk dit in jou. Hy wek die geloof in jou. Daarom moet ons wat glo nederig wees, en net dankbaar wees. Want ons geloof is ’n geskenk uit die hemel. Ons kan maar net in diepe afhanklikheid pleit: Gees van God, open my oë, sodat ek kan glo… sodat ek U beter kan ken, sodat ek U meer en meer kan vertrou. Gees van God, open my oë… sodat ek seker kan wees van die dinge wat ek nie met my blote oë kan sien nie.
Amen

Gebed (Lied 432:2)
O Heil’ge Gees, ons bid U weer
– Gees van ons Vader en ons Heer –
maak van ons hart u woning!
O lig van God wat in ons skyn;
die donker in ons laat verdwyn –
kom vul U tempelwoning!
Kom, Heer, ons Heer;
en versier ons met u deugde,
gee ons vreugde.
Heer, U is ons hoogste vreugde.
Amen

Luister nou biddend na die lied wat Jan se Wet vir ons sing: Kom Heil’ge Gees, waai deur my – want ek wil totaal op u almal vertrou.