Refrein

Lees Psalm 107:1-3.

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” (v 1).

Hierdie refrein oor God se eindelose liefde was goed in Ou Israel bekend – gaan lees maar Psalm 100, Psalm 118 en veral ook Psalm 136. Uit volle bors klink dit in al hierdie liedere op. Soos ’n goed geoefende hallelujakoor.

God se goedheid word besing, want Hy het Hom in die ge­skiedenis laat geld. Deurlopend is dít die tema: Hy het Hom by menslike leed ingelaat en ’n beslissende verskil gemaak; Hy het op die regte tyd ingegryp en die kwaad omgekeer; Hy het sy kinders beskerm, vir tyd en ewigheid. Waarlik, aan sy liefde is daar geen einde nie!

In hierdie psalm is dit die bevrydes wat aangesê word om dié refrein te herhaal. Hulle wat eens verdwaal was en wat weer deur die goeie Herder bymekaargemaak en na die trop teruggebring is, word opgeroep om saam te sing: Aan sy liefde is daar geen einde nie!

Dit sal nie sleg wees as hierdie refrein ’n nuwe asem kry nie, ook in óns tyd. Natuurlik is God se liefde eindeloos, maar gaan sê dit nou vir ontevrede mense, ook kerkmense? Wie het al probeer om gelowiges te leer om ’n enkele sinnetjie lofprysing of dankbetui­ging in hul gebede op te neem? Want waar sal daar plek wees tussen die eindelose vrae en versoeke?

Watter Christen ken jy wie se eerste gebedsin só lui: Here, ek prys u Naam? En wanneer laas het jy ’n gebed gebid sonder ’n “gee my”-refrein, ’n “asseblief tog”-koortjie?

Ek loof U, Here, want U is goed, aan u liefde is daar geen einde nie. Halleluja!

Barend Vos
Boodskap vir Vandag