Toe Jesus dit hoor, het Hy met ʼn skuit daarvandaan weggegaan na ʼn stil plek om alleen te wees … Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak (Matteus 14:13-14).
Hoe wreed en sinloos die verhaal van Johannes die Doper se moord ook al is, eindig dit nie met die bloed en afgryse nie.
Trouens, Jesus se reaksie op hierdie moord impliseer ʼn soort pad, ja, ʼn optrede waardeur hierdie tragedie, en ander soortgelyke gebeure, draagliker gemaak kan word.
Nadat Jesus hierdie tragiese nuus ontvang het, so lees ons, het Hy Hom in stilte afgesonder van sy dissipels en die skare. In dié stilte, kan ons aflei, het Hy eers alleen oor die dood van sy troue vriend getreur en nagedink.
Waarna Hy met nuwe en selfs ongekende drif en deernis teruggekeer het na die skare om hulle in hulle nood by te staan en uiteindelik ook te voed.
Hier is geen sprake van bitterheid of wraak nie. Geen preek om iemand te veroordeel of te beskaam nie. Alleen maar ʼn diep, stil en eerlike deurlewing van ʼn onherstelbare verlies. En dan ʼn terugkeer na die skare om hulle te voed. Omdat Jesus, te midde van sy diep ontsteltenis en smart, sy deernis vir mense nie kon prysgee nie.
Ook omdat Hy geweet het die volgehoue betoning van deernis is die enigste manier om hartseer, smart en bitterheid draagliker te maak.
Mag die Here ons help om dit ook te ontdek.
Here, gee ons vandag meer van u liefde, sorg en deernis sodat die afgryse van ons wêreld vir ons draagliker kan word. Amen.
Carel Anthonissen
(Boodskap vir Vandag Bybel-Media)