OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
EREDIENS – YOUTUBE
SONDAG 19 JULIE 2020
SKRIF: PSALM 23
TEMA: SELFS AS EK TWYFEL
(Prediker: Ds Smuts van Rensburg)
Votum
Hier waar ons stil is voor die Here, lê die Bybel voor ons oop by Ps 36:6-9.
Here, u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke,
u geregtigheid tot op die hoogste berge, die reg wat U spreek, tot in die dieptes van die see. U sorg vir mens en dier, o Here.
Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil.
In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid. Amen
Seëngroet
Liewe medegelowiges, ek groet julle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
Mag Hy deur die wysheid en die insig van die Gees gee dat julle sy wil duidelik sal ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag Hy julle sterkte gee om in alle omstandighede in geloof te volhard. (Kol 1:9e.v.)
Aankondiging van loflied
Ek luister hierdie week oor die radio na ‘n gesprek met ‘n mediese kenner oor die Korona virus en wat die toekoms vir ons inhou met hierdie virus. En toe sê die dokter oor die toekoms van die virus: Daar is een ding waarvan ons seker kan wees, en dit is dat ons van niks seker kan wees nie.
Vriende, as ons in hierdie tyd op al die onsekerhede moet fokus – op die onsekerhede van die virus, en die ekonomie, en die politiek… dan gaan ons alle moed verloor. Ons gaan kop verloor.
Kom, kom ons as gelowiges, ons as volgelinge van Jesus, fokus op Hom van wie ons te alle tye seker kan wees.
Kom ons fokus op Hom wat was, wat is, en wat altyd sal wees.
Kom ons fokus op Hom wie se liefde vasstaan, op Hom wat getrou bly aan sy verbond.
Kom ons neem in hierdie tyd soos die Psalmdigter ons toevlug na Hom. Kom ons skuil by Hom.
Want Hy is Koning, Hy regeer. Hy’s die Rots wat altyd vas bly staan. Sy Woord sal ewig staan.
Loflied
Oorwinningslied
Aankondiging van Skriflesing
Die Woord van die Here kom vanoggend na ons uit Psalm 73.
Gebed
Kom ons bid en vra dat die Here deur sy Woord met ons sal praat, en dat die Heilige Gees ons harte en ons lewens sal aanraak (Lied 257).
O Heer maak oop my hart se poort;
maak my ontvanklik vir u Woord
wat my u raad en wil verklaar.
Laat my dié Woord altyd bewaar.
U Woord o Heer, deurboor en wond,
maar dit genees ook, maak gesond;
u Woord toon al ons sondes aan
en wys die weg wat ons moet gaan. Amen
Skriflesing
Psalm 73
Dít vriende, is die Woord van die Here.
Preek
Kyk, dit gebeur met enige gelowige. Jy sit Sondag in die kerk sit, en jy voel goed oor jou geestelike lewe. Jy voel dat dit goed gaan met jou verhouding met die Here. Miskien is daar iets in die erediens wat jou besonders tref, die doop of die nagmaal of iets wat die Woord of die dominee sê, en dan stap jy versterk en gemotiveerd hier uit. Jy voel om saam met Asaf in vers 1 te sê: “God is vir Israel – God is vir my – baie goed… Dit gaan met my goed.” Daar’s sommer so ‘n huppel in jou stap en jy neurie een of ander geestelike liedjie in jou kop – prys die Heer met blye galme of ek weet vir seker Jesus is Heer…
Maar dan kom Maandag – en dis Bloumaandag jou. Jy kry slegte nuus van die dokter. Jy kry slegte nuus oor familie. Of jy kry ‘n slegte aanslag van die Ontvanger van Inkomste. Jou motor breek net ‘n week nadat jy vir hom nuwe bande opgesit het. Of daar’s nog ‘n maand verby wat jy of jou kind nie kon werk kry nie. Jou baas sê al die werknemers se salaris word met 20% gesny. Ag, daar gebeur sommer net ‘n klomp slegte goed met jou. Want dit is hoe die lewe daar buite die kerk se hekke is. Die lewe daarbuite is nie altyd maklik nie.
En dis dan wat jy, jy wat die Sondag daar in die kerk so goed gevoel het, jy wat so op ‘n geestelike “high” gevoel het, dis dan dat jy skielik begin twyfel. En wat doen jy dan? Jy bid. Jy bid ernstig. Jy vra dat die Here dinge moet verander, dat die Here uitkoms moet gee. Jy bid opreg. Jy bid aanmekaar. Jy pleit. Maar niks verander nie. En dan, dan twyfel jy. En hoe meer jy bid en hoe meer niks verander nie, hoe meer twyfel jy.
En nou’s dit mos baie keer in só ‘n tyd dat ‘n mens rondom jou begin kyk, na ander mense. En dan sien jy dat dit met ander mense goed gaan. Jy sien miskien iemand raak wat jy weet – kyk, hierdie persoon leef ver van die Here af, hy’s miskien selfs ‘n uitgesproke ongelowige, hy steur hom nie aan die Here nie, hy kom in elk geval nooit in ‘n kerk nie – en tog, tog gaan dit met goed met hom. Dit lyk of hy gelukkig getroud is. Hy’s gesond. Hy’s suksesvol in sy beroep. Dit lyk of hy lekker geld maak want hy ry al weer ‘n nuwe motor en dít nogal terwyl hy besig is om aan te bou by sy huis.
En dis dan dat jy begin wonder. Jy begin wonder: Hoe werk dit? – ek glo en dié ou glo nie, maar ek kry swaar en dit gaan met hom goed. En dan vra jy jouself: is dit regtig die moeite werd om te glo? Is dit regtig die moeite werd om in ‘n verhouding met die Here te probeer leef? Beteken my ‘godsdiens’ vir my enigiets. Jy begin wonder: Maak die Here regtig ‘n verskil? Of jy kom selfs op die punt waar jy vra: Bestaan die Here regtig? Is daar ‘n Here?
Vriende, as jy nou weer Psalm 73 gaan lees, dan sal sien dís wat met Asaf gebeur het. Die een oomblik – v1 – voel hy goed oor die Here en oor sy verhouding met die Here. Maar dan sê hy in vers 2
Tog het ek daaraan begin twyfel,
ek het byna koers verloor,
want ek het die hooghartige
goddelose met afguns bejeën
toe ek hulle voorspoed sien. (v2,3)
Nou moet ons onthou, die man wat hier aan die woord is, die man wat hier sê dat hy begin twyfel het, is ‘n goeie kerkmens. Hy’s ‘n godsdienstige ou wat in ‘n verhouding met die Here geleef het. En tog begin hy hier stoei met ‘n stuk twyfel in sy gemoed.
Nou ons weet mos nou almal dat twyfel nie ‘n goeie ding is nie. Trouens, twyfel kan ‘n baie gevaarlike ding wees. Dit kan jou heeltemal die verkeerde koers laat kies.
En daarom kan ons by hierdie man leer hoe hy sy twyfel hanteer. Dát hy twyfel word nie in die Bybel weggesteek nie, want dis menslik om te twyfel. Maar hierdie man se hantering van sy twyfel, kan vir ons help – juis ook in hierdie tyd. Ons sien in hierdie Psalm hoe hy deur sy twyfel stoei en worstel, en hoe hy dan op die ou end aan die ander kant uitkom, en selfs sterker staan in sy verhouding met die Here.
So, kom ons kyk hoe hanteer hy die twyfel wat by hom opkom.
Die eerste belangrike ding is dat hy eerlik is teenoor homself, dat hy dit eerlik teenoor homself erken dat hy aan die twyfel is.
As hierdie man goddelose mense se voorspoed sien, en hy begin dan wonder oor hoekom dit met hulle so goed gaan, dan is hy eerlik oor dit wat deur sy gedagtes en sy hart maal. Hy’s eerlik daaroor dat hy wonder of die Here regtig ‘n verskil maak. Dis hoekom hy dit in vers 2 en 3 uitspel: ek het daaraan begin twyfel.
Maar nou erken hy nie net dat hy twyfel nie, kyk mooi – hy sê dit ook vir die Here. Hy praat in gebed met die Here en hy sê dit eerlik vir die Here – dat hy twyfel.
Nou dis ‘n verskriklik belangrike ding. Om nie net te erken dat jy twyfel nie, maar om ook met die Here daaroor te praat. Om met respek maar ook met groot eerlikheid met die Here daaroor te praat en te stoei.
Ek onthou hoe my kollega daar op Malmesbury by die begrafnis van ‘n veertigjarige pa vir sy twaalfjarige seun gesê het: luister ou seun, jy’s kwaad en jy’s deurmekaar, jy verstaan nie hoekom dit gebeur het nie – jy mág maar met jou vuiste in jou kussing slaan. M.a.w., jy mag maar met die Here stoei. Juis omdat ‘n mens in ‘n verhouding met die Here staan, mag jy, moet jy dit met Hom uitpraat. Moet jy dit met Hom uitworstel. Anders, as jy nie met die Here daaroor praat nie, dryf daardie dinge waaroor jy twyfel en worstel ‘n wig in tussen jou en die Here. Kyk, dit geld mos vir enige verhouding. As daar bv in ‘n huweliksverhouding goed is wat pla, wat moet jy doen? Jy moet jy dit uitpraat. Anders doen dit skade aan jou verhouding. Dit kan ‘n verhouding tot niet maak. Daarom, praat oor jou twyfel met die Here.
‘n Derde belangrike ding wat ons by hierdie man leer, is dat hy nie met sy twyfel te koop loop nie. Hy praat met die Here oor sy twyfel, maar hy praat nie met ander mense sodat hy by hulle ook ‘n saadjie van twyfel saai nie. Onthou dit – moenie as jy met twyfelgedagtes oor God loop, by ander mense ook twyfel saai nie. Want jy moet ander mense se geloofsverhouding met die Here in ag neem. Natuurlik kan jy met ‘n medegelowige vriend praat om antwoorde te kry oor jou vrae, of met ‘n geestelike mentor om leiding te kry oor hoe om jou vrae te hanteer, maar jy moet nie die Here by ander mense in twyfel trek nie. Jy moet nie die Here by ander mense bevraagteken nie. Daarom sê die Psalmdigter, terwyl hy worstel met sy twyfelgedagtes,
Maar as ek so sou aanhou praat,
sou ek dié verloën wat aan U behoort. (v15)
Die Boodskap vertaal dit só: As ek so sou aanhou praat sal ek u kinders verraai, Here.
Die groot ding is: Moenie deur jou twyfel ander ook laat twyfel nie.
Maar kom ons kyk nou bietjie verder wat gebeur met Asaf. Hy erken dat hy twyfel. Hy praat met die Here oor sy twyfel. En dan gaan dink hy diep na oor alles in die Here se teenwoordigheid.
En dís juis wat ons ook moet doen as daar tye van worsteling in ons geloofslewe kom, as daar tye van twyfel kom: Word stil voor die Here. Gaan sit stil by die voete van die Here. Gaan luister mooi by die Here. Gaan dink diep na oor wat besig is om met jou te gebeur. Gaan dink diep na oor wat die Here besig is om vir jou te sê. Wat die Here besig is om in jou lewe te doen.
Ja, ons het gesê dat gelowiges in hierdie stukkende wêreld aan die twyfel kan raak. Dit gebeur dat daar vrae deur jou kop en jou hart maal. Daar kom sulke tye wat jy stoei en worstel met die Here. Maar – daar kom ‘n punt waar jy moet ophou baklei, en waar jy net in die Here se teenwoordigheid moet stil raak. Daar kom ‘n punt waar jy jou fokus moet wegskuif van jou probleme en jou vrae, en waar jy in die Here se teenwoordigheid diep moet nadink oor alles en op die Here moet infokus. Weet jy, dis in die Here se teenwoordigheid wat die lig vir ‘n mens deurbreek.
Nee, mens kry nie noodwendig maklike antwoorde op al jou moeilike vrae nie. Jy kry dalk glad nie antwoorde nie. Maar in die Here se teenwoordigheid breek daar lig deur. Die Here bring ‘n stuk rustigheid oor ‘n mens, en vul jou met ‘n vrede – met ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Soms moet ‘n mens net ophou stoei, en net stil en rustig word by die Here.
Miskien het jy ook al gehoor van die beeld van ‘n by wat by een van hierdie oopskuifvensters wil uitkom. Die by worstel en spartel vir ure en ure, en hy kom nie verder nie. Hy beur aanmekaar teen die ruit… Totdat hy oorgee en doodmoeg op die vensterbank beland. En dan ontdek hy dat die venster al die tyd oop is. En kan hy vry uitvlieg.
Dis die punt waarby die Psalmdigter uitgekom het. Hy sê in vers 16 en 17
Daarom het ek diep nagedink
om dit te verstaan
en was dit vir my bitter moeilik
totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het… (v16,17)
M.a.w., ek het gestoei en gespartel, totdat ek ontspan het in God se heilige teenwoordigheid. Totdat ek by sy voete gaan sit het.
Weet julle, dan kom die draaipunt. As hy stil word voor die Here en in sy teenwoordigheid diep nadink, dan sien hy die groter prentjie.
Daarom het ek diep nagedink
om dit te verstaan
en was dit vir my bitter moeilik
totdat ek in die heiligdom van God ingegaan
en besef het wat die uiteinde
van die goddeloses is. (v16,17)
Aaaah! Nou sien hy die groter prentjie! Hy begin om alles wat gebeur in breër perspektief te sien – hy sien skielik alles in ewigheidsperspektief.
Skielik besef hy: Hierdie mense met wie hy gedink het dit gaan goed, hulle sal ten gronde gaan. Hulle sogenaamde voorspoed is net tydelike voorspoed, dis skynvoorspoed. Dis ‘n voorspoed waarvan daar op die ou end niks gaan oorbly nie. Niks. Want vir hulle wat sonder God is, bly daar op die ou end niks oor nie. Geld, sukses, bekendheid, aardse voorspoed… dit waai weg in die wind.
En dan, die oomblik as hy dit insien, dan besef hy dat hy sommer “stupid” geredeneer het.
Toe ek verbitter was
en veronreg gevoel het,
was ek dom en sonder insig (v21,22)
Die Boodskap sê “Toe ek vir U kwaad was, was ek baie dom, net soos ‘n dier sonder verstand.” Ek was dom, ek het gedink dat rykdom of voorspoed of sukses of populariteit of gewildheid of bekendheid is die goed wat saak maak. Nou besef ek, hierdie goed tel nie!
Skielik besef hy wat wel saak maak. Wat wel saak maak, is dat die Here hom, deur alles heen, nooit gelos het nie! Toe dit nié so goed gegaan het nie, was die Here nog altyd by hom. Toe hy begin twyfel het, was die Here nog daar. Naby aan hom. Hy’t dit net nie besef nie.
Liewe medegelowige, onthou dit. Deur al jou teenspoed, deur Covid 19, deur jou besigheid se toe deure, deur jou afdanking, deur al jou vertwyfelinge, deur al jou worstelinge, is die Here by jou. Dit is hoe goed en hoe getrou die Here is.
Vers 23 is só kosbaar.
Nuwe Afrikaanse Vertaling
Tog was ek nog altyd by U,
want U vat my aan die hand. (v23)
Die Boodskap
Gelukkig het U my toe nie alleen gelos nie.
U het my nog nooit alleen gelos nie.
U hou my hand elke dag vas.
Ek onthou hoe ek eendag daar op Hartenbos ‘n vrou besoek wat erg aan Parkinsons gely het. Toe ek vir haar hierdie hoofstuk lees, toe onderbreek sy my by hierdie vers. Sy’t eintlik so begin lag en toe sê sy terwyl haar hande erg bewe: Dominee, dis maar goed dat die Here my hand vashou, want ek bewe so baie, dat my hand uit die Here se hand sal uitgly. Maar gelukkig hou Hy mý vas.
Is dit nie mooi nie! Dis mos nou geloofstaal! En ek het vir die vrou gesê ek gaan dit nog vir baie mense vertel. In ons ongelukkigheid, in ons twyfel, in ons “stupidgeit”, bewe ons hande dikwels só dat ons nie aan die Here kan vashou nie. Máár, Hy hou ons nog altyd vas. Hy hou ons vas selfs deur ons twyfel.
Dan kom vers 24
U lei my met u raad
en aan die einde sal U my
in ere by U opneem. (v24)
En nou breek die Psalmdigter se twyfellied in ‘n jubellied uit.
Vers 25
Daar is niks in die hemel
of op die aarde
wat vir my meer beteken as U nie (v25)
En vers 28
Maar wat my aangaan,
dit is vir my goed
om naby God te wees.
Ek het die Here my God gekies
as my toevlug!
Ek sal van al u werke bly vertel. (v28)
Vriende, die wêreld daarbuite is rof, dis hard, dis taai. Covid 19 en grendeltyd en droogte en ‘n sinkende ekonomie is nie ‘n teerpad nie. Die pad is vol slaggate. Dis rowwe 4×4 terrein. Daarom dat ons as gelowiges soms stoei, en worstel, en twyfel. Maar die Here is getrou. Onthou dit – Hy’s getrou. Hy’s by jou. Gaan word stil in sy teenwoordigheid. Gaan rus by Hom, met jou twyfel en al. Met jou bewende hande. Hy hou jou vas. Amen
Gebed
Wees stil en weet: Ek is die Heer,
Ek spreek en wind en golwe bedaar,
Ek sal ook jou getrou bewaar.
Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag.
Ek is by jou, Ek gee jou krag.
Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Kom, bring na My jou kommer en vrees
Ek sal vir jou ‘n toevlug wees.
Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is by jou, soos Ek beloof. Amen
Seën
Die Here stuur ons die wêreld in as gelowiges… gelowiges wat soms twyfel.
Maar hy stuur ons nie alleen nie. Ons het mekaar.
Meer nog, ons kan weet: die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God ons vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees, gaan ook met ons. Amen