OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
YOUTUBE EREDIENS
SONDAG 5 JULIE 2020
Toetrede
Goeiemôre liewe vriende. Op hierdie Sondag buig ons saam met miljoene gelowiges wêreldwyd voor die Drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees. Ons buig voor Hom in aanbidding, met lof- en dankgebede in ons harte, en in diepe afhanklikheid.
Kom na Hom, almal wat uitgeput en oorlaai is.
Kom na Hom…
Wees stil in sy teenwoordigheid.
Lied: Wees stil en weet
Toewyding
As ons vanoggend voor die Here stil word, kom ons ook na Hom om onsself opnuut aan Hom toe te wy.
Die Woord moedig ons in Rom 12:11 aan:
Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.
Dis goed dat ons gereeld hierdie Woord van aanmoediging hoor. Want daar is soveel dinge wat kan maak dat ons in ons toewyding verslap, dat ons nie meer so geesdriftig is nie, dat ons nie meer die Here met oorgawe dien nie.
Dit kan ons eie sondige aard wees.
Dit kan die versoekinge van die Satan en van hierdie wêreld wees.
Dit kan wees dat ons vanweë ons omstandighede en al die dinge wat so verkeerd loop in die wêreld, en al die druk wat ons ervaar, dat ons besig is om moedeloos en lewensmoeg te word…
Daarom, hoor dan weer die woord van aanmoediging vanoggend – Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.
Kom ons wy onsself opnuut aan die Here in die woorde van Lied 308.
Boodskap
In Februarie 1945, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, is die stad Dresden in Oos-Duitsland gebombardeer. Die stad is plat gevee. Daar het byna niks oorgebly nie.
Een van die baie geboue wat vernietig is, is die indrukwekkende kerkgebou – die Frauenkirche.
Ek wil vir jou twee foto’s wys van hoe die verwoeste stad gelyk het… en dan ook een foto van hoe die kerk na die bomaanval gelyk het (julle sal die standbeeld van die kerkhervormer Martin Luther in die voorgrond herken.) Kom ons kyk na die foto’s.
2 Foto’s van gebombardeerde stad: Dresden destroyed 1 en 2
(Google: Photos Dresden destruction)
1 Foto van Frauenkirche destroyed
(Google: Photos of destructed Frauenkirche)
Dit was 1945. ‘n Stad wat plat gevee is. ‘n Stad in sak en as. ‘n Stad in rou oor 25000 mense se dood.
Ek het die voorreg gehad om so drie jaar gelede deur die stad Dresden te stap. En om om voor die Frauenkirche te staan. En nou lyk dit anders – heeltemal anders.
Kom ek wys vir jou weer twee foto’s van hoe die stad vandag lyk. En dan wys ek ook vir jou twee foto’s van hoe die Frauenkirche vandag lyk.
2 Foto’s van stad: Dresden vandag 1 en 2
(Google: Photos of Dresden today)
2 Foto’s van Frauenkirche vandag 1 en 2
(Google: Photos of Frauenkirche today Dresden)
Daar’s nogal ‘n verskil tussen die eerste foto’s en die laaste foto’s.
Van sak en as, na trots.
Van rou, na lewe en beweging.
En die kerkgebou waar die Woord van God steeds bedien word en die Here aanbid word, staan in die stad Dresden as ‘n baken van nuwe lewe en van hoop.
Ek wil nog iets met julle deel.
Die eerste gemeente waar ons in die bediening gestaan het, was op die pragtige dorpie Greyton in die Overberg. In 1987 is die dorp bedreig deur brande – daar was eers ‘n geweldige veldbrand aan die suidekant van die dorp. En toe, enkele weke later, was daar aan die ander kant van die dorp, aan die berg se kant ‘n ontembare vuur. Die berg agter ons huis was kaal gebrand, en af in die straat waarin ons huis was, is sewe huise deur die brand vernietig. Daar was gelukkig geen menslike lewensverlies nie.
Maar die dorp was erg ontwrig. En die as wat oor die dorp gewaai het, was die as van verlies, van doodsheid.
En toe, ‘n paar weke na die brand, toe val daar ‘n ligte buitjie reën. En na enkele dae kyk ek oor die swartgebrande berg agter die huis uit. En sien ek ‘n prentjie soos dié…
Foto van lelie in verbrande veld
(Google: Photo of lily in burnt field)
‘n Beeldskone lelie te midde van al die swartgebrande fynbos en bome.
En net so, soos die lelie, het Greyton se mense uit die as opgestaan. En die dorp het weer behoorlik geblom.
En toe, net so ‘n paar jaar later, gebeur daar weer met my ‘n wonderlike ding op Malmesbury, die tweede gemeente waar ons gedien het. Ek het die oggend vroeg kerk toe gery om alles gereed te kry vir die erediens. En net toe ek by die kerkgebou indraai, trek iets my aandag. Ek het gestop en iets gesien wat my my lewe lank sal bybly.
Die munisipaliteit het ‘n paar maande tevore die sypaadjie om die kerk geteer. En dié oggend het ‘n Maartlelie met sy sagte stammetjie, deur die teer gebreek – en staan toe daar in volle blom.
Foto van Maartlelie
(Google: March lily)
Wat my getref het, was die feit dat die lelie met sy sagte stam, deur die harde, vasgerolde teer kon breek. Wat my ook getref het, was die feit van lewe, van blom, van mooi wees – wat omring is deur die koue, harde teer.
Maar weet julle wat is die mooiste van die hele storie – en dit is wat my daardie oggend die meeste getref en in verwondering gelaat het?
Dit was nie maar net nog ‘n Sondag nie. Dit was Paassondag. Die dag waarop die gemeente die opstanding van Jesus sou vier. Die dag wat sou getuig van oorwinning oor dood, en van nuwe lewe.
Ek het hierdie laaste tyd al dikwels gedink aan die verhaal van Dresden, en aan die lelie in die swartgebrande veld, en aan die Maartlelie wat deur die teer gebreek het.
Ons leef in ‘n wêreld wat gebombardeer is deur ‘n onbekende virus. Ons leef in ‘n land waarin die ekonomie deur inperkingsmaatreëls sover as wat jy kan sien swart verskroei is. Ons beleef die hardheid en onooglikheid van rassehaat en onbeholpe politiek. Ons word gebombardeer deur die nuus van misdaad, korrupsie, verkragtings, moord. En ons beleef hoe die landskap van die kerk verbrand en verskroei deur afvalligheid, en deur af te dwaal van die Woord as die enigste woord van waarheid.
En party dae vra ek myself af: Sal ons ooit weer opstaan uit die as?
Sal daar ooit weer lewe kom uit die verskroeide aarde? Sal ons ooit weer leef en blom?
Sal ons ooit deur die harde oppervlaktes van ons gebroke werklikheid kan breek?
Sal ons dit weer beleef dat die kerk met krag deurbreek deur die kors van harde harte – en dat die evangelie en die Woord in skoonheid en as ‘n teken van lewe blom te midde van swartgebrande wêreld om ons?
En dan dink ek aan Dresden – aan die vrolike musikante op straat, en die restaurante op sypaadjies waar mense saam kuier en gesels.
En ek dink aan die Frauenkirche – waar die orrel speel, en die Bybel oopgemaak word, en mense van baie lande bymekaar kom om die Here te aanbid.
En ek dink aan die lelie wat skielik in skoonheid blom te midde van alles wat verskroei is.
En die Maartlelie wat met sagte soepel-krag deur die harde, lewelose teer breek.
En dan skep ek moed – vir ons, en vir die jare wat kom, en vir die volgende geslagte.
Ek skep moed, want ek weet ek, en baie ander, en die kerk, behoort aan God. Aan dié God wat getrou is aan sy verbond. Aan Hom van wie daar gesing word: U is in beheer, wonderbare Heer.
Ons behoort aan Hom by wie daar altyd ‘n toekoms is – as ons ons maar net na Hom wil keer.
Ons behoort aan Hom wat die dood oorwin het en wat lewe gee, nuwe lewe, die ewige lewe – vir dié wat die knie voor Hom buig.
In Esegiël 33 word die profeet geroep om met die volk van die Here te praat. Hy moet praat met die dooie volk… oor hulle sonde. Hy moet met hulle praat oor hulle hoop wat verdwyn het. Hy moet met hulle praat oor Israel wat ‘n verlate, ‘n verwoeste plek sal word. Hy moet praat oor die herders van die Here se kudde wat slegte herders was. Hy moet hulle praat oor bekering… oor terugkeer na God.
Maar dan, dan kom God en Hy wys op ‘n wonderlike manier deur ‘n visioen vir sy profeet wat Hy, die Here, gaan doen.
Lees Esegiël 37:1-14
Vriende, hoor vanoggend, só sê die Woord van die Here:
Die Here doen die onmoontlike. Die Here doen die ondenkbare.
Hy gee aan droë bene vleis. Hy gee deur sy Gees lewe. Hy breek grafte oop. Hy laat ons uitkom uit hierdie vallei van doodsheid en hopeloosheid.
Nee, dit is nie klaar met ons nie. Dit is nie skaakmat nie.
As ons maar net wil besef… as ons maar net wil bely – dat Hy die Here is. As ons maar net die knie voor Hom wil buig.
Amen
Gebed
Here, ons kom na U in ‘n tyd waarin ons oorweldig word deur ons omstandighede, ‘n vreemde tyd, ‘n tyd wat ons soms benoud maak, onseker… ‘n tyd wat ons laat wonder oor die toekoms.
Ons kom vandag na U – en ons buig die knie voor U.
Voor U by wie die onmoontlike altyd moontlik is.
Ons kom skuil by U by wie daar altyd ‘n toekoms is.
Here, U self is ons hoop.
By U is daar lewe. Nuwe lewe. Ewige lewe.
Daarom bid ons, pleit ons in hierdie tyd:
Kom o Gees van God, skep ook in ons lewe.
Kom o Gees van God, kom as krag om ons uit die doodsvallei te laat opstaan.
Kom o Gees van God, kom as helper en begeleier om met ons te wees, met elke tree wat ons moet gee op hierdie onseker pad.
Kom o Gees van God, kom as onderwyser, en leer ons om in u waarheid te bly.
Kom o Gees van God, kom maak dinge weer mooi – kom skep orde uit die verwarring en skoonheid uit die chaos.
Kom o Gees van God, kom as liefde, sodat ons U mag aanbid en bo alles sal liefhê.
Amen
Kom ons bid in die gees saam as ons luister na die Gebed vir Afrika
Lied: Heer ons bid vir Afrika
Seën
Ontvang die seën van die Here:
Mag die Gees nuwe lewe en nuwe hoop in ons wek.
Mag die Gees ons vertroos wanneer ons hartseer is.
Mag die Gees ons bemoedig wanneer ons moedeloos is.
Mag die Gees ons krag gee en verfris wanneer ons moeg en uitgeput is.
Mag die Gees sy vrede en vreugde in ons vestig.
Mag die Gees ons lei in volharding en volkome toewyding aan ons Heer.
Mag die Gees die vrug van gehoorsaamheid in ons na vore bring waardeur ons Heer verheerlik kan word.
Amen