Sondag 9 Augustus 2020

 

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
EREDIENS OP YOUTUBE
Ds Smuts van Rensburg
SONDAG 9 AUGUSTUS 2020
SKRIF: DEUT 7:6-11; HAND 2:41-47; 1 PET 2:9-17
TEMA: Ons is geroep om Hom SAAM te volg en dien!

Voorwoord
Ek is vanoggend diep dankbaar omdat die waarheid en die krag en die wonder van die evangelie van hierdie Woord (Bybel) hierdie week opnuut aan my bevestig is. Ek wil opnuut saam met baie gelowiges bely: Ek glo in God die Vader se liefde. Ek glo in die werking van die Heilige Gees. Ek glo in Jesus Christus wat vergewe, en vry maak, en nuut maak, en nuwe hoop gee.

Ek het hierdie week ‘n wonderlike gesprek gehad met ‘n tienerseun. Hy’t gesê ek kan maar sy storie uitdeel, want hy hê wil dat ander dit ook moet hoor. Hierdie tienerseun se lewe was van die begin af nie so – kom ons sê – nie so gunstig nie. Hy is in die gevangenis gebore terwyl sy moeder tronkstraf uitgedien het. En toe, op sesjarige ouderdom, is sy moeder oorlede. En… lang storie… sy pad was steil en moeilik, en donker – baie donker. Onseker. Soekend. Sonder uitsig.

En toe het hy ‘n stem gehoor – ‘n stem wat hom na die kerk geroep het. En dis in die kerk, in die gemeente waar hy die Here self ontmoet het, en medegelowige vriende wat saam met hom die pad stap. Dis in die kerk, by die Here van die kerk, waar die lig vir hom deurgebreek het, en sy lewe omgekeer is na ‘n lewe van sin. En hy leef nou met ‘n nuwe doel, en met ‘n vaste hoop.

Dis daardie stem van die Gees wat hom geroep het… die stem wat ook vanoggend oor die wêreld heen weerklink…

Votum
Luister na lied: Kom na My toe

Seëngroet
Aan almal wat na Hom kom: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle.
Amen

Inleiding tot boodskap
In hierdie selfde week waarin ek hierdie wonderlike gesprek met hierdie tienerseun gehad het, lees ek op Netwerk 24 die artikel van ‘n baie bekende skrywer, ‘n baie goeie skrywer. Sy skryf oor al die goeie dinge wat hierdie grendeltyd vir haar en haar man opgelewer het – hoe hulle mekaar weer opnuut waardeer, hoe hulle dinge in die lewe opnuut waardeer, hoe hulle nuut droom oor die tyd wat hulle nog saam oor het… Oor besluite wat hulle geneem het oor die lewe. En dan, aan die einde van haar artikel, sê sy “en ons het besluit dat ons nooit weer kerk toe gaan nie”.

Ek en ‘n paar kollegas het juis so twee weke gelede hieroor getob: Ons wonder hoe gaan die kerk lyk ná die grendeltyd? Ons wonder of almal wat altyd so getrou meegeleef en eredienste bygewoon het, gaan terugkom? Ons wonder of sommige nie dalk gaan besluit – ag, dis goed genoeg as ek by die huis na YouTube preke luister, of ek kan oor die TV na mooi boodskappe luister, ek hoef nie meer deel te wees van ‘n gemeente nie, ek hoef nie meer eredienste toe te gaan nie. Of – gaan sommige nie sommer maar net wegraak nie?

Het jy nie dalk al ook so ‘n gedagte gekry: Ek hoef nie meer deel te wees, aktief deel te wees van ‘n gemeente nie. Ek hoef nie meer kerk, eredienste toe te gaan nie?

Kom ons luister na wat die Here in sy Woord vir ons leer.

Maar voordat ons saam lees, bid ons dat die Here deur sy Woord ons gedagtes, ons harte en ons lewens sal aanraak.

Gebed
Here, dankie vir u Woord, die Woord van waarheid,
die Woord wat die boodskap bring van vrymaking, nuutword, hoop.
Ons dank U vir die werking van die Gees,
wat die waarhede van die Woord aan ons harte en ons lewens vasmaak.
Kom dan, o Gees van God, kom ook vandag
as ons u Woord lees en na die prediking luister –
vorm ons gedagtes, gee ons geestelike insig, lei ons in die waarheid
om te dink, te besluit en te handel soos U wil, en nie soos ons wil nie.
Ons bid dit in Jesus Naam.
Amen

Aankondiging van Skriflesing
Ons gaan vandag enkele verse saam lees uit Deut 7, Hand 2 en 1 Pet 2
Julle kan gerus in julle stiltetyd meer lees.
Deut 7:6 – 11
Hand 2:41 – 47
1 Pet 2:9 – 17

Skriflesing
Deut 7:6 sê oor die Here se volk in die Ou Testament:
6. Jy is ‘n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees.
7. “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.
8. Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ‘n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.

Dan lees ons in die Nuwe Testament in Hand 2 van mense wat na die uitstorting van die Heilige Gees hulle tot Jesus bekeer het.
v42 Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en gebede.
v44 Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.
v46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom en van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou.
v47 En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

En dan lees ons in 1 Pet 2:9 verder van die Nuwe Testamentiese kerk:
9. Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.
10. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God.

Preek
Vriende, die woord kerk kom van die Griekse woord kuriakos, en dit beteken “van die Here” of “die Here s’’n”.
Die woord wat in die Nuwe Testament met gemeente vertaal word, kom weer van die Griekse woord ekklesia wat beteken “’n vergadering van mense wat vir ‘n spesifieke doel bymekaar is.” Nou as ons dit nou bymekaar sit, dan sê dit vir ons wat die kerk eintlik is: Die kerk is die vergadering of die bymekaarkom van die Here se mense en wat vir ‘n spesifieke doel bymekaar is, en daardie doel is om die Here te aanbid.

Dit is presies wat ons nou in Deuteronomium – in die Ou Testament, en in 1 Petrus – in die Nuwe Testament gelees het. Albei hierdie gedeeltes sê vir ons dat die volk, die kerk, is God se mense wat Hy eenkant gesit het vir Homself. En let wel waar val die klem: dis God se mense, en Hý sit hulle eenkant – Hý kies sy mens uit vir Homself. Dis nie in die eerste plek ons wat Hom kies nie, en ons wat besluit ons sluit by die kerk aan nie. Hy kies ons. En wat ‘n voorreg is dit nie om vandag te kan sê, dat ons deur God gekies is, en dat ons deel mag wees van God se volk, sy kerk.

Nou dit begin natuurlik in die Ou Testament by die verhaal van Abram, waar die Here vir hom roep om met hom ‘n verbond te sluit. En dan sê God vir Hom “Abram, Ek sal vir jou ‘n God wees, en jy en jou nageslag sal vir My ‘n volk wees.” Dink net watter voorreg dit vir Abram moes wees, watter vreugde dit vir hom moes wees, om te dink dat God hom kies, dat God hom roep om in ‘n verhouding met hom te staan. Dat God aanbied om ‘n pad saam met hom te loop, én om die grootvader van God se volk te wees. En so kom sê die Here dan ook in Deut 7 aan die volk wat uit vader Abraham gebore is, aan die Israeliete “Jy is ‘n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees.” En dan sê v7 hierdie woorde wat ons moet raaksien: “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie… nee… jy was die kleinste van almal… Maar omdat die Here jou liefhet… het Hy jou… laat wegtrek en jou bevry…” Hoor mooi: Omdat die Here jou liefhet, het Hy jou gekies en vry gemaak en sy volk gemaak.

En dit is ook die beeld wat Petrus in die Nuwe Testament gebruik. Hy sê: “Julle is ‘n uitverkore volk… ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk… van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”

Vriende, gaan sit ‘n bietjie stil in jou binnekamer en dink daaroor: Dink daaroor: Dat die groot en almagtige God in sy groot liefde en genade mense uitkies en roep om sy volk, sy kerk te wees. En die wonderlike is, dat ons – dat ek en jy – ook uitgekies en geroep is om deel daarvan te wees!

Nou hierdie roeping behels ‘n hele paar dinge.
Dit behels in die eerste plek dat ons as die Here se volk, ons as sy kerk, dat ons geroep is UIT:
Israel is uit Egipte geroep.”
1 Pet 2:9 sê ons is uit die duisternis geroep.
Ons as God se mense is geroep uit, van iets af weg. Uit slawerny. Uit die duisternis. Uit ons ellende. Uit/weg van ‘n sondige leefwyse.

In die tweede plek beteken dit dat ons geroep is VIR:
Die volk van die Here, die kerk is geroep vir ‘n besondere verhouding met die Here. Ons lees in die Ou Testament dat Israel was afgesonder van die ander volke om vir God ‘n volk te wees. In die Nuwe Testament sien ons weer dat die dissipels geroep word vir navolging van Christus, vir gemeenskap met Christus. Geroep vir diens aan hulle Koning en sy kerk. Petrus sê gelowiges is geroepe heiliges. Nou dit beteken hulle is afgesonder vir die Here. Eenkant gesit vir ‘n ontmoeting met God en vir ‘n lewe wat aan Hom toegewy is.  Ons as sy volk, ons as sy kerk is geroep UIT, ons is geroep VIR…

Maar ons is ook geroep SAAM MET: – en dit is waarop ons vandag ‘n bietjie moet fokus.

Die Bybel bring vir ons die wonderlike boodskap dat God in die individu belangstel. Dat God my as individu liefhet. Dat God my op my naam ken en my op my naam roep. Maar die Bybel leer ons ook baie duidelik dat God die individu roep om saam met ander in ‘n nuwe verhouding met Hom te leef. Om saam met ander vir Hom ‘n volk/sy kerk te wees.

Ons hoor baie keer dat mense sê dat geloof is ‘n persoonlike saak is, dit het niks met ander te doen het nie – “net solank my saak met die Here reg is” sê hulle. Vriende, dis nie wat die Bybel ons leer nie – nie die Ou Testament of die Nuwe Testament nie.

Ons leef ook in ‘n tyd waarin daar baie klem gelê word op die individu, of op mense se privaatheid. En daarom sien ons dikwels dat lidmate hulle van die kerk onttrek, dat hulle onttrek van die gemeenskap van gelowiges, van kerklike byeenkomste, van eredienste, om dan in privaatheid voor die TV hulle godsdiens te beoefen. Daar is deesdae boeke en gesprekke wat ‘n saak wil uitmaak daarvoor dat jy aan die Here kan behoort maar dat jy nie noodwendig aan die kerk hoef te behoort nie. Liewe medegelowiges, hoor mooi – dis nie wat die Bybel vir ons leer nie. Die Bybel herhaal dit keer op keer, in die Ou Testament en die Nuwe Testament, dat dié wat aan die Here behoort saam met die ander wat aan Hom behoort, sy volk is. Die wat aan Hom behoort stap saam met mekaar op die geloofspad. Die wat aan Hom behoort het saam met die ander ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Dit gaan oor saam-wees, oor die gemeenskap van gelowiges, oor deel met mekaar.

In die Ou Testament sien ons dat Israel wat bevry word uit Egipte trek deur die woestyn op pad na die beloofde land – saam. Hulle tel die manna saam op en eet saam.
En so is dit ook in die Nuwe Testament. Ons sien in Handelinge 2 dat die eerste bekeerlinge die behoefte het aan saam-wees, aan saam eet, aan deel met mekaar. En dit is hoe God sy kinders wil sien – saam. Daarom lees ons ook in Hebr 10:25 “Ons moenie van die samekomste van die gemeente wegbly soos party se gewoonte is nie, maar ons moet mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan…” Dit gaan vir die volk van God om ‘n gesamentlike operasie. Dis soos ‘n leër wat as ‘n eenheid saam veg teen die vyand. Ons as volk van God moet saam staan, nie net Sondae nie, maar ook deur die week. Daar moet onderlinge liefde wees. Ons moet mekaar ondersteun. Ons moet mekaar bemoedig. Ons moet mekaar dra.

In die Ou Testament is die besnydenis die teken van inlywing in die verbond, en dit beteken ook inlywing in die verbondsvolk – m.a.w. die een wat besny word, word deel van die verbondsvolk wat saam aan die Here behoort. Dit is ook wat met die doop gebeur – die gedoopte word ingelyf in die Here se gemeente om saam met die gemeente die Here te dien en aanbid. Dit is ook hoekom daar nie iets soos ‘n privaat doop of ‘n familie-byeenkoms doop is nie. Jy word in die erediens gedoop onder andere as teken van inlywing in die gemeente.
In die Ou Testament sien ons dit ook met die Pasga, dat die Israeliete wat uit Egipte bevry is, eet die Pasga saam. En so is dit ook in die Nuwe Testament – die nagmaal is die geleentheid waar die Here se gemeente saam om die tafel sit. Die nagmaal is nie ‘n individualistiese of ‘n privaat aangeleentheid nie. Dis die baie besondere geleentheid waar die nagmaalgangers gemeenskap met die Here en met mekaar beoefen.

Liewe medegelowiges, hoor vandag dat die Woord leer – dat ons nie net as individue gered en geroep is nie, maar dat ons geroep en gered is om saam met ander, saam met die Here se kerk op reis te wees.

Die volk van God is geroep uit, die volk van God is geroep vir, die volk van God is geroep saam met, maar die volk van God is ook geroep TOT. Die Here se volk is geroep TOT IETS. Ja, die Here se volk is geroep tot die ewige lewe.

Waartoe was Abraham geroep? Abraham was geroep om saam met die volk die toekomstige erfenis, die beloofde land, in besit te gaan neem. En dit is wat ons ook in die Nuwe Testament hoor. In 1 Tim 6:12 staan daar “In die goeie wedloop van die geloof moet ons al ons kragte inspan om die ewige lewe (die beloofde land) as prys te behaal. Daartoe het God ons geroep…” Die volk van God is geroep tot die ewige lewe. Ons is aan die trek, aan die beweeg na ‘n ewige toekoms. En vir hierdie reis, op pad na die einde, het ons mekaar baie, baie nodig. Ons het nodig om mekaar te versorg, om mekaar tereg te wys, om mekaar te bemoedig.

Mag ons as volgelinge van Jesus in die grendeltyd baie bewus wees van die voorreg om as mense wat deur God uitgekies is, deel van sy kerk te wees. Mag ons in hierdie tyd, maar ook wanneer die grendeltyd eendag verby is, saam op reis wees. En mag ons, wanneer die grendeltyd verby is, saam met die Psalmdigter verlang na die plek van aanbidding om saam met ander gelowiges die Here te dien en aanbid. Amen.

Gebed
Here, wat ‘n genade om te mag sê ek is deel van u kerk!
Wat ‘n voorreg –
dat U my uitgekies en saam met ander gelowiges geroep het.
Dankie dat U my geroep en gered het
uit my sonde en ellende.
Dankie dat U my geroep het
tot ‘n lewe van diensbaarheid in u koninkryk.
Dankie dat U my geroep het
om saam met ander gelowiges op reis te wees –
op pad na die ewige lewe. Amen.

Antwoordlied
Kom ons antwoord met Lied 478: Die lied wat sê dat God mense roep om sy volk te wees. En dan in v2: Hy roep ons om één te wees – één in geloof en werke, één in sy Heilige Naam.

Seën
Mag die Here jou ‘n instrument van sy vrede maak.
Mag jy, daar waar haat is, liefde saai;
daar waar onreg is, vergifnis;
waar daar twyfel is, geloof;
waar daar wanhoop is, hoop;
waar daar duisternis is, lig;
waar daar droefheid is, vreugde.

Mag die genade van ons Here Jesus Christus,
en die liefde van God ons Vader,
en die gemeenskap van die Heilige Gees met ons wees en bly. Amen