Terugskouend

Lees Johannes 2:18-22.

Maar die Jode het Hom aangespreek … (v 18).

Dalk was dit vanweë hul gevestigde belange in die uitbuiting van die tempelgangers. Dalk was hulle bloot ongemaklik oor Jesus wat die tempel opgeruim het, dit wat húlle eintlik moes doen.

Hoe ook al. Hulle praat Hom aan. Hoe durf Hy! Hulle daag Hom uit. Tipies die destydse Jode, soek hulle ’n wonderteken.

Hy gee dit vir hulle: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig” (v 19).

Maar soos gewoonlik verstaan hulle Hom verkeerd, en hierdie vergissing sou uiteindelik een van die vernaamste aanklagte teen Hom word toe daardie einste mense ’n verskoning vir sy tereg­stelling soek (Mark 14:57-59). En soos so dikwels gebeur het, verstaan sy dissipels sy woorde ook eers veel later, toe hulle op daardie dag terugkyk.

Agterna beskou, kan ook ons heelwat oor dié klein gesprek tussen Jesus en die verontwaardigde Jode sê. Dalk iets soos: By­gelowigheid het nie brieke nie; hulle wou dan opsluit ’n teken hê. Of: Geslepenheid het geen grense nie.

Ag, dalk oordeel ons te kru oor hierdie kultuur. Maar dan kan ons gerus uitroep: Moedswilligheid, waar is jou einde! Want dit bly ’n feit dat die Jode van meet af aan probeer het om Jesus uit te daag. Uit te lok.

Dit het nooit gewerk nie. Maar dit het hulle hoegenaamd nie verhoed om uiteindelik wel van Hom ontslae te raak nie. ’n Mens moet nie die krag van gevestigde belange onderskat nie. En jaloesie was nog altyd ’n vernietigende emosie, juis in die kerk en juis tussen gelowiges.

Here, U moet tog nooit ophou om u kerk te reinig nie! Werk saggies met my …

Barend Vos
Boodskap vir Vandag