U het my gerou in ʼn koordans verander, my rouklere uitgetrek en my met vreugde omgord (Psalm 30:12).
Psalm 30 is ʼn gedeelte waarna ʼn mens, soos met goeie musiek, altyd kan terugkeer om weer daarna te luister.
Hier sien ons onder meer hoe God mense met sy goedheid en guns kan verras.
Die psalmdigter het duidelik in ʼn stadium in groot angs en verdriet verkeer, hetsy vanweë siekte of die een of ander bedreiging. Sy oorheersende gevoel was dat God hom verlaat het, selfs afgeskryf het. En dat hy nou onkeerbaar na die dood op pad was.
In hierdie skynbaar reddelose situasie wend hy hom ten einde raad opnuut na God; hy doen wat die meeste van ons doen wanneer ons in ʼn diep gat beland: Hy kla, hy roep, hy smeek om genade.
Hoe lank sy lyding geduur het en sy geduld beproef is, is nie duidelik uit die psalm nie. Wat wel duidelik is, is dat God sy gebed verhoor en sy lot verander het. Sodat die slegte herinneringe, hoewel nog daar, skielik na die agtergrond verskuif, terwyl die toon van lof, vreugde en dankbaarheid oorheersend raak.
Vrolik roep hy uit: “Here my God, ek het na U om hulp geroep en U het my gesond gemaak … U het my gerou in ʼn koordans verander … Here, my God, ek sal U vir altyd loof (Psalm 30:3, 12-13).
Ons kry hier ʼn prentjie van iemand wat ontdek en al hoe meer begin vertrou dat God die God van groot verrassings is.
Hopelik word Psalm 30 ook jóú verhaal wanneer jou geloof in hierdie tyd beproef word.
O Here, vandag roep ek weer na U – U wie se goedgesindheid teenoor mense ʼn lewe lank duur. Amen.
Carel Anthonissen
(Boodskap vir VandagBybel-Media)