Lees Eksodus 20:12-17.
“Jy mag nie … begeer nie” (v 17).
Die tweede helfte van die Tien Gebooie begin klaarblyklik by die vyfde gebod (al gee die vierde gebod reeds ’n aanduiding van hoe God hieroor dink deur die medemens – seuns en dogters, die werkers en die vreemdelinge wat by jou is – en diere by die sabbatsgebod in te sluit).
Maar wanneer die Bevryder Hom volledig tot die bevrydes, ons, se verhouding met die medemens wend, begin Hy by die verhouding met ons ouers. Maklik, nie waar nie? Ja, wel, as jy geseënd genoeg is om ouers te kan hê wat dit vir jou maklik of selfs net moontlik gemaak het om hulle te eer.
Moord pleeg? Nie sommer nie. Al sê Jakobus dat die tong vol dodelike gif is. En ’n brandstigter soos min.
Egbreuk? H’m, ’n moeilike ene … Veral as Jesus sê kýk-met-’n-begeerte is reeds egbreuk. Ai.
Steel? Nee. Beskuldig my van baie dinge, maar nie van diefstal nie. Elk van my CD’s en DVD’s is die oorspronklike weergawe, elke versekeringseis ’n akkurate weergawe van wat ander by my gesteel het.
Vals getuienis teen my naaste? Ag, wat is ’n bietjie skinder nou? Of ’n knertsie oordrywing? Dit is tog bloot om ander te laat verstaan presies hoe sleg dáárdie een is.
Begeer? Ag, Here! Ek vra nie baie nie. Ek wil bloot hê wat ander het – aansien, erkenning, vergoeding. Selfs ’n bietjie meer, as dit kan.
Vergewe my vir wat ek alles doen om te kry wat ek wil hê. As ek mense uit die pad vee sodat my wil kan geskied. Of, Here, Hére, vergewe U dit nié?
Barend Vos
Boodskap vir Vandag