Lees Job 23:1-9, 16-17.
“As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek … my saak voor Hom lê … probeer verstaan wat Hy vir my wil sê” (v 3-5).
Meer kere as wat ons sal wil toegee, heet ons ook Job. Ons, die gelowiges, die vromes, wat gans te gereeld na ons sin deur die lewe onderstebo geklap word. Ander mense – dié wat omgee, wat selfs vir ons lief is – gee ons die raad om dinge maar te “laat gaan”, om te berus.
Soos dit by God se kinders hoort, sê hulle. Wie is jy om aan Hom te probeer voorskryf? Buitendien: Is jy op spesiale behandeling geregtig? Wat maak jou beter as ander ongelukkige slagoffers? vra hulle.
Alles wat hulle sê, maak sin. ’n Tyd lank probeer ons hul raad volg, probeer ons selfs voorgee dat dit beter gaan, dat ons die pad na aanvaarding gevind het. Maar in ons eerlike oomblikke voor die spieël erken ons aan onsself: Ons kry nie vrede nie. Ons wil weet: Hoekom, Here?
Dan breek daar dalk ’n fase aan waarin ons aktief op soek gaan na Hom. By al die bekende adresse gaan klop ons aan: gebed en smeking, Bybelversies, kerkbesoek, selfs ’n kenner of leraar of mentor in wie ons vertroue het. Oral vra ons: Is die Here dalk hier? Ek wil Hom net hierdie een vragie vra.
Waar is U, Here? vra Job. Ek soek U in die ooste en weste, ek roep noorde en suide toe. As U my net wil antwoord …
Een ding moet julle almal weet: Ek sal nie berus nie. Ek sal bly soek, totdat Hy my antwoord. Ek het net vir Hom.
Praat met my, Here! Ek is moeg geluister na ander se menings. Ek het net vir U.
Barend Vos
(Bybel Boodskapper)